Ja, Pniël – die klein asemrowende dorp – vorige sendingstasie – in die Dwarsriviervallei, bring weer hulde aan Adam Small, digter, skrywer, politikus en akademikus – met ʼn litirêre fees op Saterdag, 26 Februarie 2022.
Die eerste Adam Smallfees was in Februarie 2017 oor ʼn naweek hier op Pniël gehou. Dit sal dus hierdie jaar die 5de verjaarsdag van die fees wees. Die fees word deur die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust aangebied met Prof Darryl David, bekende boekefees organiseerder, as programleier. Van Darryl se bekendste feeste is die Bookbedonnerd fees op Richmond, die Breyten Breytenbach-boekefees op Montagu en die enigste Kinderboekfees in Suid-Afrika.
‘n Uitvloeisel van die Adam Smallfees was die stigting van ‘n skryfskool by die Pniël Museum, onder leiding van welbekende skrywer, Diana Ferrus en die bekendstelling van die digbundel “Voetspore, ‘n Pniëlse Digbundel” in 2021 – saamgestel deur Matthew Cyster.
Kom kuier lekker saam met ons in die Pniël Museum teetuin en geniet die asemrowende uitsig in die skadu van die majestieuse Simonsberg, terwyl welbekende sowel as opkomende skrywers en digters hul litirêre werke voorlees en hul stories vertel. Die program sluit in: Diana Ferrus en 2 groepe skrywers van haar skryfskole in Wellington en Pniël; Kyle Jantjies, ‘n jong onderwyser wat reeds ʼn hele aantal boeke geskryf het. Die ATKV, Vriende van Afrikaans en Afrikaans.com koordineer gesprekke Ommietafel met Julian Jansen (senior joernalis) en Lyntjie Jaars (storieverteller en bekende op TV). Die middag program belowe welbekende internasionale skrywers soos Cathy Park, Nancy Richards, Karen Jennings en Christa Kleynhans.
Gaireyah Fredericks en ‘n groep digters van die Lokxion “Poetry group” sluit die litirêre program af, waarna Natalia da Rocha en die Applauze Art Orkes die fees afsluit met die vertoning “Adam Small Bejazzed” – a tribute to Adam Small’s poetry, the language, the people, the man himself whose voice authorities tried to silence, a voice that brought “Kaaps” to a status worthy of the people who speak it, our political landscape then and now, showcased on a musical platform through Jazz, Blues and Hip Hop. “ Kaartjies vir hierdie vertoning is R50.
‘n Baie gepaste afsluiting van ‘n dag wat toegewy word aan ‘n groot litirêre ikoon, Adam Small.
“Ek twyfel nie aan die toekoms van Afrikaans nie, solank daar mense is wat Afrikaans praat, sal die taal bestaan”. Adam Small
Van die skrywers se boeke sal te koop wees. Die fees word gratis aangebied, maar skenkings is welkom. Tuisgemaakte verversings uit Pniël se kombuise sal ook te koop aangebied word. Pniël het ook sy eie kookboek by die 2020 Adam Smallfees vrygestel, so kom proe gerus hoe die mense hier kan kook!