Darryl Earl David, van Howick in KwaZulu-Natal, is die enigste Indiër-dosent van Afrikaans in Suid-Afrika. Vir die afgelope 20 jaar is die Afrikaanse letterkunde totaal en al sy lewe.
Maar hy is veral bekend as die stigter van Suid-Afrika (en Afrika) se enigste Boekedorp, Richmond in die Karoo.
Hy is ook die persoon wat boekefeeste op die literêre kaart van Suid-Afrika gevestig het. Hy is die stigter van die BookBedonnerd Fees op Richmond, die Schreiner-fees op Cradock, die Midlands Literary Festival in Howick, die JM Coetzee-fees op Richmond, die Breyten Breytenbach-boekefees op Montagu, en die enigste Kinderboekfees in Suid-Afrika, wat in Pietermaritzburg gehou word; en onlangs het hy die reëling van die Fugard-fees oorgeneem.
Hy is ook die medeskrywer van twee boeke: 101 Country Churches of SA en A Platteland Pilgrimage: 102 Country Churches of SA. Hy werk tans aan twee nuwe boeke wat hopelik aan die einde van 2015 klaar sal wees. Sy vyfde boek, het hy homself belowe, sal ‘n roman wees.